|
|||||||
|
|
|
|||||
|
|
|||||||
|
|
Ons gemeente strek hom uit oor twee lande naamlik Suid-Afrika en Namibia. Die gemeentegrense strek oor `n gebied van meer as 90 000 vierkante kilometer en sluit die volgende dorpe, in alfabetiese volgorde, in: Aggeneys, Alexanderbaai, Carolusberg, Kleinzee, Nababeep, Okiep, Oranjemund, Port Nolloth, Rosh-Pinah, Springbok, Vioolsdrif en Warmbad. Sommige van ons lidmate bly tot 360km van ons kerkgebou af. Om die bediening in hierdie uitgestrekte gebied sinvol te maak, sodat elke lidmaat die geleentheid het om geestelik te groei, is die gemeente opgedeel in `n aantal wyke. Hierdie wyke funksioneer as kleingroepe wat gereeld saamkom vir biduur of Bybelstudie. Tydens so wyksbyeenkoms word daar dan ook doelgerig beplan vir die uitbreiding van God se koninkryk in die spesifieke wyksgebied. Hiermee het ons weg beweeg van die tradisionele manier van Afrikaanse kerke om allerlei aksies in die gemeente te he. Binne die wyksbyeenkomste kom gesinne saam en kan egpare, ouers en kinders saam hulle dienswerk beplan. Ons heg groot waarde aan die rol wat die gesin as kleinste Verbondsgroep kan speel en wil juis so ver moontlik waak teen allerlei aksies wat dit uitmekaar kan skeur. Die bediening in die verskillende wyke geskied onder leiding van die ouderling en diaken wat onderskeidelik vir die geestelike opbou en versorging en ook die barmhartigheidsdiens verantwoordelik is. Saam vorm al die ouderlinge en diakens `n kerkraad. Huidiglik is ons Voorsitter van die Kerkraad, ouderling Johann Mostert.
Ons plaaslike leraarspaar is Ds Johan Schutte en sy vrou Christine. Hulle is beide gebore Vrystaters en geniet dit om weer op die platteland te wees nadat ons Ds Schutte in 2003 van sy vorige gemeente, Germiston, af beroep het. Ds Schutte het sy skoolloopbaan op Villiers begin en 12 jaar later ook daar voltooi. In 1994 begin hy by die Universiteit van Pretoria met sy studies en ontvang in 1996 die graad BA met as hoofvakke Hebreeus en Bybelkunde. In 1997 begin hy sy Teologiese Opleiding aan die Afrikaanse Protestantse Akademie, waarna hy die graad BTh in 1999 met lof ontvang. In 2006 voltooi hy sy verhandeling vir die MA-graad in Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria met die titel: Die ekklesiologiese begrippe "sigbare en onsigbare kerk" in die Drie Formuliere van Enigheid teen die agtergrond van die AP Kerk se kerkbegrip. Ook die MA-graad word met lof geslaag. Tans is hy besig met doktorale studies vir die PhD-graad aan die Universiteit van Pretoria waarin spesifiek gelet word op die aktualiteit van die Dordtse Kerkorde (1618-1619) as basis vir hedendaagse gereformeerde kerkordes. Dominee en mevrou het 80km van mekaar af groot geword en skool gegaan. Mevrou Schutte het haar skoolloopbaan as `n nooi Laubscher op Heilbron begin en in 1994 ook daar voltooi. In 1995 het sy by die Universiteit van Pretoria begin met haar opleiding as veearts. In 2000 behaal sy die graad BVSc. `n Dag na die gradeplegtigheid is hulle in die huwelik bevestig en word hulle so ver bekend die eerste leraar-veearts kombinasie - iets waaroor menige boer in die gemeenskap dankbaar is. Mevrou Schutte werk as staatsveearts vir die Noord-Kaap se departement Landbou, terwyl sy ook besig is met studies in BCom Bestuursrekeningkunde. Ons is dankbaar dat die Here vir ons `n leraarspaar voorsien het en glo dat hulle vrugbaar in ons gemeente sal arbei.
Neem die vrymoedigheid om ons plaaslike leraar te e-pos deur slegs die volgende skakel te gebruik:
|