Ons glo ...






  


Ons glo...


Belydeniskerk

Die AP Kerk Namakwaland is `n Belydeniskerk.  Ons skaam ons nie vir wat ons glo nie en stel dit in die openbaar op skrif.  Van die vroegste tye af is Satan daarop ingestel om twyfel te saai wat die Woord van God aanbetref.  Op talle plekke in die Ou Testament lees ons van valse profete wat voorgegee het dat hulle die Woord van God spreek, terwyl dit nie die geval was nie.  Ook die Nuwe Testament waarsku ons teen mense wat `n ander leer verkondig.  Deur die eeue moes die kerk hom gedurig teen sulke dwaalleraars verweer.  Dit het gelei tot die ontstaan van ons belydenisskrifte waarin die kerk van tyd tot tyd duidelik en positief op skrif gestel het wat die suiwer leer van saligheid is in ooreenstemming met die Woord van God.  Hierdie belydenisskrifte het deur groot stryd tot stand gekom en het die bloed van baie martelare gekos.

Hierbo kan u `n kunstenaarsvoorstelling sien van die Sinode te Dordrecht 1618-1619 waar ons belydenisskrifte vasgestel is.

Ons handhaaf die volgende belydenisskrifte:

1.  Die Algemene Belydenisskrifte

  • Die Apostoliese Geloofsbelydenis of die Twaalf Artikels;
  • Die Geloofsbelydenis van Nicea;
  • Die Geloofsbelydenis van Athanasius.

2.  Die Besondere Belydenisskrifte (Drie Formuliere van Enigheid)

  • Die Heidelbergse Kategismus;
  • Die Nederlandse Geloofsbelydenis;
  • Die Dordtse Leerreels.

Die doel en waarde van ons belydenisskrifte is onder meer:

  • om die suiwer leer te bewaar en aan die nageslag oor te dra;
  • om die eenheid van die gelowiges in die onderskeie kerke te bewaar;
  • om openlik teenoor die wereld te getuig wat die suiwer leer van die saligheid is volgens die Woord van God;
  • om die suiwer leer van die Bybel te verdedig en alle dwaalleer te bestry.

Hier onder volg die teks van die Algemene Belydenisskrifte terwyl die Besondere Belydenisskrifte op aparte bladsye gelaai is.

Algemene Belydenisskrifte

Die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Die Christelike kerk noem hierdie Belydenisskrif die Apostoliese Geloofsbelydenis, alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Reeds vanaf die 2de eeu het dit sy ontstaan gehad en het verder ontwikkel totdat dit ongeveer die 4de eeu sy finale beslag gekry het (NGB, art. 9). Dit staan ook bekend as die Twaalf Artikels.

(1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.

(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig, gestorwe en begrawe is en ter helle neergedaal het;

(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

(6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

(7) vanwaar Hy sal kom om te oordeel die lewende en die dode.

(8) Ek glo in die Heilige Gees.

(9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

(10) die vergewing van sondes;

(11) die wederopstanding van die vlees;

(12) en 'n ewige lewe.

Die Geloofsbelydenis van Nicea.

Hierdie Belydenisskrif word genoem na die plek Nicea (Klein-Asie), waar dit opgestel is in die jaar 325, toe daar 'n Algemene Konsilie gehou is en waar die dwalings van Arius verwerp is. Die Belydenisskrif word ook aangehaal in artikel 9 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Ek glo in een God, die Almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde en van alle sienlike en onsienlike dinge.

En in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle eeue: God uit God, lig uit lig, waaragtige God uit waaragtige God, gebore, nie gemaak nie, van dieselfde wese met die Vader, deur wie alle dinge gemaak is.

Wat ter wille van ons, mense, en ons saligheid neergekom het uit die hemel en vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en `n mens geword het;

Ook vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is; en op die derde dag opstaan het volgens die Skrifte; en opgevaar het na die hemel; wat sit aan die regterhand van die Vader, en weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die lewende en die dode; wie se ryk geen einde sal he nie.

En in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word, wat gespreek het deur die profete. En een heilige, algemene en apostoliese Kerk.

Ek bely een doop tot vergifnis van sondes, en ek verwag die opstanding van die dodes en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen.

 

Die Geloofsbelydenis van Athanasius.

Hierdie belydenisskrif word genoem na Athanasius, die verdediger van die Skriftuurlike leer teen die dwalings van Arius in die 4de eeu, maar stam waarskynlik omstreeks 500nC uit Spanje of Suid-Frankryk. Dit vertolk die Kerk se standpunt oor die leer van die Drie-eenheid (NGB, art. 9)

1 Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.

2 As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel vir ewig verlore gaan.

3 Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer;

4 sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

5 want die Persoon van die Vader is 'n ander, die van die Seun is 'n ander, die van die Heilige Gees is 'n ander.

6 Tog het die die Vader die Seun en Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.

7 Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees

8 Die Vader is ongeskape, Seun is ongeskape, en die Heilige Gees is ongeskape;

9 onmeetlik is Vader, onmeetlik is Seun, onmeetlik is die Heilige Gees

10 Die Vader is ewig, Seun is ewig, en die Heilige Gees is ewig.

11 Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,

12 net so is daar nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.

13 Op gelyke wyse is die Vader almagtig, die Seun almagtig, en die Heilige Gees almagtig;

14 en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.

15 So ook is die Vader God, die Seun God en die Heilige Gees God;

16 en tog is daar nie drie gode nie maar een God.

17 So ook is die Vader Here, die Seun Here een die Heilige Gees Here;

18 en tog is daar nie drie Heres nie maar een Here.

19 Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,

20 word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of here te bely.

21 Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;

22 die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie, maar gegenereer;

23 die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.

24 So is daar een Vader, nie drie vaders nie, een Seun, nie drie seuns nie, een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.

25 En in hierdie Drieheid is daar nie 'n eerste of 'n laaste nie, nie meeste of minste nie,

26 maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,

27 sodat in alle opsigte, soos hierbo gese is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid ge-eer moet word.

28 Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.

29 Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.

30 So is die opregte geloof dan: Ons glo en bely dan dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyketyd God en mens is.

31 Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

32 volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees;

33 na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minders as die Vader.

34 En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.

35 Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie, maar deur die aanneming van die mensheid in God.

36 Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.

37 Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

38 wat gely het ons saligheid ontwil; Hy het neergedaal ter helle, Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dode,

39 na die hemel opgevaar en Hy sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.

40 Daarvandaan sal hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

41 By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan

42 en van hulle eie werke rekenskap gee.

43 En die wat goed gedoen het, sal in die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.

44 Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig word nie.